Oor
'n tydperk van dertig jaar het hy
houtmusiekstaanders vervaardig. Die eerste staanders
het in 1985 in 'n groep van drie ontstaan, twee uit
meranti en een uit embuia. Die bladontwerp is
gebaseer op die vorm van 'n lier.
Die volgende projek
was 'n triostaander, ook uit embuia, met 'n sentrale
poot en drie arms waarop die musiekblaaie
verstelbaar aangebring is. Alhoewel die konstruksie
nie tegnies heeltemal bevredigend is nie, doen die
staander altyd nog goeie diens.
Intussen is vele
staanders met verskillende bladontwerpe gebou. Die
verstelmeganismes word volledig uit hout gemaak. Met
'n sjablon en freesmasjien word die blad uitgesny,
maar die grootste deel van die werk benodig handwerk
met beitels.
'n
Groot tegniese uitdaging was die dirigeerstaander
wat in opdrag van die Motettenchor Pforzheim vir die
afskeid van die dirigent, Prof. KMD Rolf Schweizer
gemaak is. Die staander moes baie stabiel wees, en
die feit dat dit opvoubaar moes wees het besondere
tegniese oplossings geverg. Die ontwerp integreer
die Bach-wapen en die wapen van die stad Pforzheim.
Die lus vir tegniese
oplossings in hout is in die volgende projek verder
op die proef gestel: 'n kwartetstaander. Al die
skarniere is ten volle uit hout gemaak, en veral die
skuifmeganisme en die bal-en-potjie-gewrig van die
arms stel hoë tegniese eise aan die materiaal en die
vervaardiging. |