Forum vir histories gefundeerde
uitvoeringspraktyk in Suid-Afrika
Vanaf die middel van die vorige eeu het ‘n opwindende
vernuwing in die uitvoering van Westerse kunsmusiek sy
aanvang geneem. Aangevoer deur voorlopers soos Nicolaus
Harnoncourt in Oostenryk, die broers Kuijken en Anner
Bijlsma in Nederland, en Gustav Leonhardt in Duitsland,
het al hoe meer musici ontevrede geraak met die
uitvoering van voor-romantiese musiek met die
instrumentarium en die estetiek van die grootliks
romanties ge-ykte musiekopvatting, en na nuwe weë in die
interpretasie en uitvoering van musiek gesoek.
Deur enersyds die vroëre geskrifte oor die uitvoering
van musiek te raadpleeg, en andersyds die instrumente te
gebruik waarvoor die musiek oorspronklik gekomponeer is,
is gepoog om die oorspronklike klankbeeld van vroëe
musiek te rekonstrueer.
‘n Beginstadium van groot
eksperimenteerlus en ekstreme – selfs dogmatiese –
standpunte is deurloop, totdat die beweging vandag by
beide die musici en die publiek algemeen aanvaar is.
Inderdaad, dit het in die Westerse wêreld reeds erkende
praktyk geword het om musiek van ‘n sekere tydperk met
die instrumente en volgens die uitvoeringspraktyk van
daardie tyd te speel.
Die resultaat is allermins die daarstelling van steriele
museumstukke. Inteendeel het die beweging ‘n ongekende
inspuiting van energie in alle vlakke van die musieklewe
– van praktiese uitvoering tot musiekwetenskap – tot
gevolg gehad, en ‘n nuwe, eksistensiële soeke na die
wesentlike boodskap van alle musiek ontvou.
Die histories korrekte uitvoeringspraktyk van
musiek is in Suidafrika nog in sy kinderskoene, en word
in die opleidingssentra sowel as deur die publiek met
wantroue bejeën. Hierdie agterstand maak dit toenemend
moeilik vir musiekstudente en afgestudeerdes om
aansluiting te vind tot verdere studie of beroepskanse
in die buiteland. Sedert die vroeë negentientagtigerjare
werk enkele baanbrekers, veral John Reid Coulter
(klawesimbel), daaraan om die beweging in Suid-Afrika te
vestig en hierdie weerstand af te breek. Intussen het
die getal van ondersteuners aangegroei, en sluit dit ‘n
toenemende getal van jong musici in.
‘n Verblydende ontwikkeling in die laaste jaar is die
positiewe instelling teenoor historiese
uitvoeringspraktyk by enkele musiekdepartemente soos aan
die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en aan die
Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.
Daarbenewens bied die Koepel Kunstesentrum op ‘n
gereelde basis meestersklasse in instrumentele tegniek
en uitvoeringspraktyk aan, waarby kundiges uit Europa
sowel as uit Suid-Afrika as dosente optree.
Die Kampvegters vir Vroeё
Musiek in Suid-Afrika
John
Reid Coulter is een van die toonaangewende verteenwoordigers van
historiese uitvoeringspraktyk in Suid-Afrika. Na sy voorbereidende
musiekstudie in Potchefstroom studeer hy klawesimbel aan die Koninklike
Konservatorium in Den Haag by Jacques Ogg. Hy is welbekend as
beoordelaar by musiekfeeste en het as komponis reeds verskeie
toekennings ontvang. Hy het aanstellings aan die universiteite van
Potchefstroom, die Witwatersrand, Pretoria, en die Universiteit van die
Vrystaat in Bloemfontein gehad. As solis en continuospeler tree hy in Nederland, Noorweë en Duitsland
op. Met sy barokensemble Banda di Giovanni gee hy eerste
uitvoerings in Suid-Afrika van verskeie vroeë werke, onder andere die
kantate Apollo e Dafni van G.F. Handel in 2004 en die
Serenata à tre Mio cor, povero cor van Antonio Vivaldi in Mei 2007.
Benewens die speel van historiese klawerbordinstrumente het John ook ‘n
diep belangstelling in die konstruksie van hierdie instrumente en het
reeds ‘n aantal klawesimbels en ‘n fortepiano gebou.
Hans
Huyssen
is in Pretoria gebore. Na sy musiekstudies by die Universiteit van
Stellenbosch, studeer hy in Europa verder en verwerf ‘n Meestersgraad in
komposisie onder Hans-Jürgen von Bose by die Musikhochschule in München.
Deur die seminare van Nikolaus Harnoncourt by die Mozarteum in Salzburg
het hy in historiese uitvoeringspraktyk betrokke geraak en vir etlike
jare met verskeie barokensembles as tjellis opgetree.
Hans Huyssen het beurse van die Steinbrenner-stigting (Berlyn), die
Beierse Kultuurministerium, ‘n spesiale merietetoekenning van SAMRO, en
‘n prys van die Ernst von Siemens-stigting ontvang. Hy is medestigter en
leier van die ensemble così facciamo, wat vroeë en hedendaagse
musiek op historiese instrumente uitvoer. Hy lei gereeld
operaproduksies, mees onlangs L’Orfeo van Monteverdi, wat onder andere
in München opgevoer is. Met sy aktiwiteite as komponis, tjellis en dirigent, wat hoofsaaklik
deur die twee pole van vroeё en hedendaagse musiek bepaal word, verdedig
hy die mening dat hierdie twee gebiede in die uitvoerende musieklewe nie
in isolasie gesien moet word nie, maar in verband met mekaar gebring
moet word. Daarbenewens speel sy belangstelling in die musiektradisies
van Afrika ‘n belangrike rol, beide in sy komposisie en in uitvoerings.
In ‘n soeke na ‘n eie Suid-Afrikaanse vorm van hedendaagse musiek
hervestig hy hom na ‘n veertienjarige verblyf in Europa in 2000 weer in
Suid-Afrika. Hy is tans verbonde aan die Deutsche Schule in Kaapstad.
Gerhard
Benadé
studeer natuurwetenskappe en wiskunde, en gelyktydig moderne fagot by
Leendert Booyens en Fanie Jooste in Potchefstroom. In 1995 vestig hy hom
as vryskut-fagottis in Duitsland, waar hy sy fagotstudies onder Albrecht
Holder voortsit. Sedert 2001 speel hy ook die historiese
fagotinstrumente dulsiaan, barokfagot en klassieke fagot, en studeer aan
die Musikhochschule Trossingen by Christian Beuse. In 2005 keer hy na
Suid-Afrika terug om die Koepel Kunstesentrum in die lewe te roep,
waarmee hy die aanbod aan verdere opleidingsmoontlikhede in musiek in
die land verryk. Sedert 2008 word hier jaarliks verskeie kursusse
en konsertprojekte aangebied, hoofsaaklik in historiese
uitvoeringspraktyk.
Die behoefte om sy eie instrumente te bou het die musikant en
elektroniese ingenieur Selway Robson gemotiveer om sy aanvanklike beroep
op te gee en instrumentmaker te word. Nadat hy by die Bristol Aeroplane
Technical College in Engeland ‘n diploma in meganiese ingenieurswese
verwerf het, ontvang hy ook van die universiteit van Southampton ‘n
honneursgraad met lof. As instrumentmaker het hy tot die hede meer as veertig instrumente in
die klawesimbelfamilie gemaak, sowel as ‘n dosyn pyporrels. Hierdie
instrumente is in die besit van vele tevrede klante oor die hele wêreld
– in Engeland, Europa, Australiё, Japan en Suid-Afrika. Benewens die instrumente wat hy self bou, speel Selway Robson ook die
barokhobo en barokfagot. Hy tree gereeld op saam met ‘n barokensemble in
Kaapstad.
Merryl
Monard
studeer aan die Universiteit van Pretoria en verwerf ‘n meestersgraad in
uitvoering met lof. Tussen 2004 en 2006 studeer sy by Abbie de Quant
(fluit) en Marten Root (traverso) aan die Konservatorium van Amsterdam,
en verwerf daar eweneens ‘n meestersgraad. Sy het ‘n diep belangstelling
in historiese uitvoeringspraktyk, en het as student in Amsterdam reeds
saam met barokensembles opgetree. Na haar terugkeer na Suid-Afrika tree
sy ook hier as traversospeler op, veral in die ensemble Banda di
Giovanni van John Coulter. In 2007 was Merryl die algehele wenner van die
ATKV-musiekkompetisie, en het daarbenewens ook die prys vir haar
uitvoering van ‘n Bachsonata op die traverso, begelei deur Inette Swart,
gewen. Na hierdie toekennings was sy op Classic FM te hoor en het in die
September ‘08 Classic Feel-tydskrif verskyn. Merryl speel gereeld saam
met plaaslike orkeste soos JMI, Salon Music en die JPO. ‘n Hele aantal
komposisies is aan haar opgedra, soos bv. die Desember-fragmente (2003)
van die bekende Suid-Afrikaanse komponis Stefans Grové.
Erik
Dippenaar studeer musiek aan die Universiteit van Stellenbosch en
daarna aan die Royal College of Music in London. Hy was in London
woonagtig tot 2011, waar hy hoofsaaklik in kamermusiekkringe aktief was
en met Florilegium,
The London Handel Players en l’Avventura London opgetree het. Hy werk
ook gereeld saam met die English Touring Opera, die Little Baroque
Company en Ensemble Serse. Gedurende die seisoen 2008/2009 word hy
aangestel as Mills/Williams Junior Fellow by die RCM. Sedert sy
terugkeer na Kaapstad speel hy 'n leidende rol in die Vroeë Musiek aan
die Kaap. Hy is tans musiekdirekteur van die barokorkes
Camerata Tinta Barocca wat in Kaapstad gesetel is, en ook deeltydse
dosent aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy Musiekgeskiedenis en
Historiese Uitvoeringspraktyk onderrig. In sy doktorale studie aan
hierdie universiteit ondersoek hy die rol wat huislike
klawerbordinstrumente in die kolonialiseringsproses van Suid-Afrika
gespeel het.
www.ctbaroque.co.za
|
|
Die Forum se doelstellings is:
1.
Die bevordering van die uitvoering van musiek, met
inagname van die konteks waarin en waarvoor dit geskryf
is, by uitvoerende musici en die algemene publiek. Dit
sluit musiek uit alle styltydperke in, vanaf die
vroegste begin van westerse musiek -- Gregoriaanse
gesang – deur die Renaissance, vroeg- en
laatbaroktydperke, die klassieke en romantiese tydperke,
maar ook hedendaagse musiek en in die besonder
volksmusiek van alle volkere. Musiek is altyd gebonde
aan ‘n tyd en sy voorstellings, en vir die uitvoering
daarvan is kennis hiervan en sensitiwiteit hiervoor
noodsaaklik.
2.
Die koördinering van alle aktiwiteite wat met historiese
uitvoeringspraktyk saamhang, die reël van konsertreise
en meestersklasse van buitelandse musici, die uitbou van
uitvoerings- en opleidingsgeleenthede in Suidafrika, en
die vestiging van ‘n kerngroep van kundige musici.
3.
Die daarstelling van ‘n forum vir die bekendstelling van
konsert-, opleidings- en musiekwetenskaplike
aktiwiteite, en vir die bevordering van kontak tussen
musici wat hulle vir historiese uitvoeringspraktyk
beywer. |
|